11. Wat meer kon Ek doen? | God se liefde en Geregtigheid

Andre en Rebecca Joubert “‘Is u dan tog ’n koning?’ het Pilatus gevra. Jesus antwoord hom: ‘U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem’” (Johannes 18:37, AFR20). n Insiggewende kinderstorie het ’n tyd gelede in die tydskrif Guide verskyn. Dit speel in die Middeleeue af en gaan oor ’n seun, Denis, ’n weeskind wat later deur pleegouers ingeneem is. Aanvanklik het die seun ’n vreeslike haat vir die koning van sy geboorteland gehad omdat dié se soldate hom van sy ouers af weggevat het toe hulle siek was. So Denis het hulle nooit gesien nie. Eers later verneem hy dat die koning hom van sy ouers geskei het sodat Denis, en ook ander oorlewendes, die verskrikkings van die Swart Dood kon vryspring. Hierdie waarheid oor die koning se beweegredes het Denis bevry van die haat wat hy byna sy lewe lank teenoor hom gekoester het. In elke geval het die koning uitsluitlik uit liefde vir sy mense opgetree. Deesdae sien talle die Here in bykans dieselfde lig as dié waarin Denis die koning beskou het. Hulle beleef die gruwels [van hierdie gevalle wêreld] en begin om God te haat of sy bestaan te ontken. Waar is God te midde van al dié lyding dan? Hoekom is daar so baie boosheid as God dan goed is? Die groot stryd werp lig op hierdie beslissende vraagstuk, hoewel baie vrae onbeantwoord bly. Wanneer al ons pogings om dié kwelvrae te beantwoord as onvoldoende afgemaak word, kan ons nog kruiswaarts kyk en deur [sy lewe en soendood] sien dat God vertrou kan word, selfs al bly die antwoorde ons ontwyk.