Moenie die vuur stook nie! Jakobus 1:12-18

Die oumense het gesê: as jy met vuur speel, gaan jy brand. En ons weet hoe waar dit is. ‘n Klein vlammetjie wat eers onskuldig lyk, kan sommer vinnig ‘n groot, onbeheerbare veldbrand word. Vra maar die boere wat al met veldbrande moes sukkel. ’n Veldbrand begin klein. ’n Vonkie. ’n Klein vlammetjie. Iets wat ’n mens amper kan miskyk. Maar as daardie klein vlammetjie droë gras kry, wind kry, brandstof kry, dan ruk dit vinnig handuit. Om ’n klein vuurtjie dood te trap, is nog moontlik. Maar as dit eers ’n veldbrand geword het, is die skade vernietigend: plase, diere, huise, oeste, soms selfs lewens. Vandag moet ons eerlik vra: kan sonde ook so werk? Kan iets wat klein in die hart begin, later ’n vuur word wat ons nie meer kan beheer nie?