Kom na die lig! 1 Johannes 1:5-7

As jy al in ‘n donker nag van storms, gevaar of vrees was, sal jy weet hoe lank so ‘n nag kan wees. Dan sal jy ook weet hoe welkom die lig is wanneer dit uiteindelik dag word. As die lig kom, kan jy weer sien. Jy sien jou pad, jy sien wat rondom jou aangaan. Lig bring veiligheid, hoop en rus. Maar lig doen ook iets anders. Lig wys wat in die donker lê. Dit ontbloot baie keer wat ons liewer geheim wou hou. Daarom verlang ons baie keer na God se vrede, maar ons vrees vir God se lig. Ons wil hê God moet naby kom — maar nie té helder op ons lewe skyn nie.