Klou vas; Desperate Dankbaarheid.

Klou vas; Desperate Dankbaarheid. Tekste gebruik: • Filippense 2; 14 -15 • Filippense 3: 20 – 21 • Filippense 3 : 7 – 8 • Galasiërs 1: 6 – 10 • Efesiërs 2: 8 – 10 • 2 Johannes 1 : 9 – 11 • Hebreërs 4: 12 - 13 Ons het die afgelope weke gekyk na mense in die Bybel wat desperaat was vir Jesus se ingryping – die Kanaänitiese vrou, die Romeinse offisier, die vrou met die bloedvloeiing, en Blinde Bartimeus. Hulle volharding het tot oorwinning gelei. Vandag kyk ons na ’n ander vorm van desperaatheid: desperate dankbaarheid. Paulus skryf in Filippense vanuit die tronk – ’n plek waar hy maklik kon kla, maar hy kies om dankbaar te wees. Dankbaarheid onderskei ons van die wêreld, bring ons nader aan God, en laat ons soos sterre skyn. Paulus se geheim was dat hy die groter prentjie gesien het: sy burgerskap is in die hemel. Hy reken alles in die wêreld as verlies in vergelyking met die een groot wins – om Christus te ken en Hom as Here te erken. Sy besittings, posisie en selfs sy eie lewe was minder werd as sy verhouding met Jesus. Die gevaar vandag is dat ander evangelies – soos “declare and decree,” “name it and claim it,” of Joodse gebruike in die kerk – mense van ware dankbaarheid beroof. Hierdie leerstellings plaas die mens in beheer en nie God nie. Paulus waarsku dat alles wat ons van Christus af weglei, soos “vullis” weggegooi moet word. Die ware evangelie bly dit: Uit genade is ons verlos, deur geloof – dit is God se gawe, nie ons eie werke nie. Daarom leef ons in nederigheid en dankbaarheid, want ons is God se maaksel, geskep in Christus Jesus. Laat ons desperaat vas hou aan dankbaarheid – omdat ons gered is, omdat ons ’n ewige erfenis het, en omdat ons Skepper elke dag by ons teenwoordig is. Amen