LEWENSLESSE uit 'n DROOGTE: Marie en Daniël Vermeulen van Carnarvon se storie

“Ons het in die kerk gesit, dan is dit groot ooms wat huil dat die banke ruk.” Só onthou Marie Vermeulen die droogte wat in hulle deel van die Karoo geduur het van 2016 tot November 2021.  Sy, haar man Daniël en hulle gesin boer buite Carnarvon in die Noord-Kaap. Marie praat in hierdie podsending oor haar belewenis van die soort veeljaardroogte wat al vele plattelandse gemeenskappe in Suid-Afrika met rampspoedige gevolge getref het. Hierdie gesprek het in Maart 2026 plaasgevind op die grasperk langs die Vermeulens se plaashuis. “Soos jy hierdie wêreld nou hier sien, hier was niks … Hier by die agterdeur, dan kom die skilpaaie en bokkies en goed. Dan gooi ek nou maar vir hulle hondepille en als,” verduidelik sy oor die maer jare. As sy tesame met haar man nou terugdink aan daardie tydperk sê sy: “Ek is baie dankbaar vir die droogte. Want dit het gemaak wie ons is.”