Hemelvaart 2026

JOHANNES 14: 1 - 20 1LAAT julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle. 5 Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? 6Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. 8Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. 9Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? 10Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. 11Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self. 12Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo — die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. 13 En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. 14As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. 15 As julle My liefhet, bewaar my gebooie. 16En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog 'n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.