Brendin sou nie die "Slag van Senekal" goedkeur nie

Die jong Brendin Horner is op 1 Oktober 2020 vermoor en sy lyk is op 2 Oktober 2020 gevind. Die woordvoerder vir die polisie in die Vrystaat, brigadier Motantsi Makhele het gesê Horner het beserings aan sy kop en gesig gehad. 'n Mes is op die toneel gevind. Horner se Toyota Hilux is later langs die pad gevind met bloedvlekke. Talle berigte wou dit hê dat Horner gehang is, wat gemoedere nog meer opgejaag het en gelei het tot 'n massabyeenkoms waar geweld uitgebreek het op Senekal toe die verdagtes die eerste keer in die hof verskyn het. Nuuspod het die gebied besoek en dit reggekry om 'n onderhoud met Horner se werkgewer Gilly Scheepers te doen. Scheepers het dit duidelik gestel dat Horner nie gehang is nie. Belangriker nog is hoe Scheepers dit benadruk het dat die voorval nie ‘n rassekwessie is nie, maar misdaad. Met gemoedere wat so hoog geloop het, was die boodskap uiters belangrik om bestendigheid in die gebied te vestig.