AS JY DRIE WEKE (OF MEER) HET OM DIE HERE SE WERK TE DOEN - 28 JUNIE 2026

DATUM: 28 JUNIE 2026 (OGGEND) PREDIKER: PROF. STEPHAN JOUBERT TEMA: AS JY DRIE WEKE (OF MEER) HET OM DIE HERE SE WERK TE DOEN Handelinge 17 en Paulus se drie weke in Tessalonika se sinagoge Handelinge 17 : 1-9 (NNT) Paulus, Timoteus en Silas het deur die stede Ampifolis en Apollonië gereis. Toe kom hulle aan in die stad Tessalonika. Daar was ’n Joodse sinagoge. Dit was Paulus se gebruik om heel eerste soontoe te gaan. Daar het hy vir drie Sabbatte met hulle geredeneer uit die Skrifte. Hy het vir hulle verduidelik en bewys dat die Messias moes ly. En dat Hy uit die dood moes opstaan. Hy het vir hulle gesê: “Hierdie Jesus wat ek aan julle bekendmaak, Hy is die Messias. Hy is die Christus.” Sommige van hulle het begin glo. Hulle het aangesluit by Paulus en Silas. ’n Baie groot groep Griekssprekendes wat God vrees, asook ’n groot groep belangrike vroue in die stad het dieselfde gedoen. Die Jode het baie jaloers geword. Hulle het toe ’n klompie moeilikheidmakers wat daar rondhang, bymekaar gemaak. Later het hulle ’n groot skare mense opgesteek sodat die ganse stad in oproer was. Toe val hulle Jason se huis aan. Hulle het vir Paulus-hulle hier kom soek om hulle voor die stad se verteenwoordigers te daag. Toe die skare hulle nie hier kry nie het hulle vir Jason en party gelowiges gevang en hulle hardhandig na die stad se amptelike leiers gesleep. Al skreeuende het hulle gesê: “Hierdie mense keer die hele wêreld onderstebo. Nou is hulle hier by ons. Jason het hulle as sy gaste ontvang. Al hierdie mense tree op in stryd met die wette van die Keiser. Hulle sê daar is ’n ander Koning na wie ons moet luister. Dit is Jesus.” Hulle het die skare agter hulle geskaar, asook die leiers van die stad wat hierdie dinge gehoor het. Almal was baie omgekrap. Nadat Jason en die ander gelowiges borg betaal het, is hulle vrygelaat. Wat preek jy in drie weke? 1 Tessalonisense 1:2-10 (NNT) Ons sê altyd vir God dankie vir almal van julle. Ons doen dit wanneer ons aan julle dink in ons gebede. In die teenwoordigheid van ons God en Vader onthou ons heeltyd julle goeie werke wat in geloof geanker is. En julle harde arbeid wat in liefde geanker is. En julle volharding wat in hoop geanker is. Dit alles is gerig op die Here, Jesus Christus. Liewe geloofsfamilie, God het julle baie lief. Ons weet Hy het julle uitgekies om in Hom te glo. Want die goeie nuus wat ons bekendmaak, het nie net na julle toe gekom deur doodgewone woorde nie. Dit het met krag gekom en deur die Heilige Gees wat in ons werk en met groot innerlike oortuiging. Julle weet dat ons met integriteit opgetree het toe ons daar tussen julle was. Julle het ons nabootsers geword en net soos ons begin leef. Ook het julle nabootsers van die Here geword. Julle het die Here se Woord aangeneem terwyl julle swaar gely het. Dit het julle gedoen met die Heilige Gees se blydskap. So het julle ’n voorbeeld geword vir al die gelowiges in die provinsies van Masedonië en Agaje. Daar van julle af is die Woord van die Here nie net bekendgemaak in Masedonië nie, maar ook in Agaje. Op elke denkbare plek het julle geloof in God bekend geraak. Julle getuienis oor die Here is so groot en kragtig dat ons niks verder hieroor hoef te sê nie. Oral vertel die mense hoe gasvry julle ons daar by julle ontvang het. Hulle vertel ook hoe julle na God toe gedraai het. Julle het julle rug gedraai op die afgode. Julle het begin om die lewende en ware God te dien. Ook wag julle getrou op sy Seun wat uit die hemel terugkom. God het Hom lewend gemaak uit die dood. Dit is Jesus! Dit is Hy wat ons red van die oordeel wat op pad is. Jy praat en leer: A. Geloof, hoop en liefde (vers 2-3) B. ‘n Kort geloofsbelydenis (vers 9-10) C. Jy leef die voorbeeld van Christus (vers 6-7)