Ware Wortels

Ware Wortels – AJ du Toit © Nie almal wat in jou boom sit Is deel van jou boom nie Leer om te onderskei Voor jy jou gewig insit Daar is die blaar-mense in jou lewe Hulle kom vir 'n seisoen Hulle neem wat hulle nodig het En as die wind draai - is hulle weg Jy sien hulle in die somer As alles groen en vol is Maar as die koue kom Soek jy hulle - en hulle is weg Moenie hulle haat nie Blare is ook mooi Maar moenie jou gewig Op 'n oppervlakkige blaar plaas nie Want nie almal wat bly Is wortels nie En nie almal wat gaan Was ooit net ‘n blaar nie Ken jou boom Ken wie die blare is Ken wie die takke is Ken wie die wortels is Ken jou boom Voor jy jou gewig insit Voor jy jou siel oorgee Aan iemand wat dit sal verbrokkel Dan is daar die tak-mense Hulle lyk sterker as blare Jy glo jy kan op hulle leun Tot die storms kom Hulle bly 'n paar seisoene Lank genoeg om vertroue te bou Maar as die lewe swaar raak Sien jy hulle ‘n kraak maak Die breek is altyd seer Want jy het geglo hulle was vas Maar 'n tak is nooit 'n wortel nie Al lyk dit soms so Toets jou takke Voor jy al jou gewig insit Want die kraak kom altyd As jy dit die minste verwag Ken jou boom Ken wie die blare is Ken wie die takke is Ken wie die wortels is Ken jou boom Voor jy jou gewig insit Voor jy jou siel oorgee Aan iemand wat dit sal breek Maar dan - die wortel-mense Hulle doen nie dinge om gesien te word nie Hulle werk in die donker Onder die grond - onsigbaar Jy sien nie wat hulle doen nie Maar jy voel dit as die storms kom Hulle hou jou vas As alles om jou waai, swaai en ruk en pluk Hulle bring lig in die donkerste tyd Hulle het jou lief net soos jy is Nie die weergawe wat presteer nie Net - jy Koester hulle Want wortel-mense is skaars En 'n boom sonder wortels Val met die eerste teken van ‘n ligte wind Ken jou boom Die blare sal vergaan Die takke sal breek Maar die wortels, hulle sal bly Ken jou boom Gee jou gewig oor aan die wortels Gee jou siel oor aan die wortels Hulle alleen sal dit vasklou Blare kom en gaan… Takke kraak en breek… Maar wortels… Wortels bly… Ken jou boom… Ken jou mense… Ken jou ware wortels…